EXECUTIVE SUMMARY IN AFRIKAANS

Inflection Point International

 

ABOUT US

This report was created by

thanks to support from 

with additional support from 

Uitvoerende Opsomming

Soos pandemiese inperkings vroeg in 2020 regoor die wêreld versprei het, het advertensietariewe skerp gedaal en nuusontleders het van ‘n “uitwissingsvlakgebeurtenis” vir nuusorganisasies gewaarsku.

Bekommerd oor hoe hierdie krisis die onafhanklike digitale inheemse media waarmee ons by SembraMedia werk beïnvloed het, het ons aan die begin van 2021 ‘n grootskaalse navorsingsprojek onderneem om te sien hoe hierdie relatief nuwe mediaspelers gevaar het, en of enigiets sedert ons eerste Inflection Point-studie in 2016 verander het.

Ons was verlig om te verneem dat die meerderheid van die 200 + digitale inheemse media wat in hierdie uitgebreide studie ingesluit is, nie die groot finansiële verliese gely het wat deur tradisionele mediaspelers gerapporteer is nie. Ons analise dui daarop dat dit hoofsaaklik as gevolg is van die feit dat hulle nie oormatig afhanklik is van advertensies nie, en omdat toekennings-befondsing vir media in 2020 toegeneem het.

In ons eerste Inflection Point-studie het ons onderhoude gevoer met 100 digitale inheemse media-entrepreneurs in Argentinië, Brasilië, Colombia en Mexiko. Vir hierdie verslag, benewens 100 onderhoude wat uitgevoer is in dieselfde vier lande in Latyns-Amerika, het ons nog agt lande bygevoeg, waar ons onderhoude gevoer het met medialeiers van 49 digitale media-organisasies in Afrika wat van Ghana, Kenia, Nigerië en Suid-Afrika afkomstig is; en in Suidoos-Asië het ons onderhoude gevoer met leiers van 52 organisasies wat van Indonesië, die Filippyne, Maleisië en Thailand afkomstig is.

Met ‘n span van 23 plaaslike navorsers, onder leiding van streeksbestuurders, het ons onderhoude in die plaaslike tale van elke land uitgevoer. Die onderhoude het 2 tot 3 uur lank geduur, en het 500 vrae bevat met ‘n bestek wat joernalistieke inhoud en impak, mediavryheid en joernalisveiligheid, inkomstebronne en uitgawes, spanstruktuur en ervaring, gebruik van sosiale media, en tegnologie en innovasie ingesluit het.

Soos ‘n mens sou verwag was daar streeksverskille tussen die digitale nuusmedia in Afrika, Suidoos-Asië en Latyns-Amerika, wat ons in hierdie verslag insluit. Maar wat ons die meeste getref het toe ons die data hersien het, was die ooreenkomste wat onder hierdie nuusorganisasies na vore gekom het terwyl hulle daarna streef om hul gemeenskappe dekking te gee en volhoubare sakemodelle te bou.

Alhoewel die meeste van hulle met relatief klein begrotings werk, het hulle ‘n impak wat wys dat hulle bo hul gewigsafdeling veg in vergelyking met die grootte van hul spanne en hulpbronne. Baie spesialiseer in ondersoekende- en datajoernalistiek, en meer as 50% het nasionale of internasionale toekennings vir hul werk gewen.

Inflection Point International verteenwoordig die diepste en breedste navorsing na die stand van digitale inheemse media in Latyns-Amerika, Suidoos-Asië en Afrika wat ooit uitgevoer is. Soos dit so gereeld gebeur in ons nie-heeltemal-post-pandemie wêreld, wat ons ontdek het was ‘n vermenging van kommerwekkende bedreigings en inspirerende deurbrake.

Die digitale nuusuitgewers in hierdie studie is gebou deur vasberade mediastigters wat bereid is om korrupte regerings en gewelddadige internasionale kartels aan te neem ten spyte van beperkte hulpbronne. Te veel van hulle waag hul lewensbestaan – en in die ergste gevalle, hul lewens.

Maar hierdie verslag is nie ‘n noodkreet vir hulp nie, of ‘n desperate pleidooi om ‘n groep media wat in die moeilikheid is te red nie—glad nie, want baie van die mediastigters wat ons ondervra het is huiwerig om enigsins vir hulp te vra.

Ons doelwit in die bladsye wat volg is om lig te werp op hierdie toenemend belangrike mediaspelers wat net begin het om die erkenning te kry wat hulle verdien. Baie van die digitale inheemse media in hierdie studie het stories gedeel waar daar wesentlike en beduidende gevolge was, stories wat insluit die beskerming van bedreigde spesies, die ondersteuning van geslagsgelykheid, en die afdwing van bedankings in oneer van korrupte regeringsamptenare.

Ons deel ons bevindinge en aanbevelings omdat hierdie medialeiers ons hulp verdien om hulle veilig te hou terwyl hulle bose magte teenstaan, en omdat hulle verdien ook om finansiële ondersteuning en opleiding te kry sodat hulle veerkragtige en onafhanklike media-organisasies kan bou wat hul gemeenskappe—asook hul demokratiese stelsels—kan dien vir baie jare nog.

Bedrywig onder ‘n spervuur van dreigemente en aanvalle

Hierdie nuwe media-ondernemings staar baie van dieselfde uitdagings in die gesig wat tipies is van nuwe ondernemings, maar hulle werk dikwels onder omstandighede wat ander sakestigters as ondenkbaar sou beskou—van aanlyn aanvalle tot fisiese geweld.

Oor al drie van die streke het 51% van die media-organisasies in hierdie studie gesê hulle is die slagoffers van digitale aanvalle, en 40% het gesê dat hulle al bedreig is oor hul werk—dikwels op ‘n weeklikse indien nie ‘n daaglikse basis nie.

Aanlyn teistering het so algemeen geword dat baie van die organisasies wat ons ondervra het, gesê het hulle is onderwerp aan byna konstante uitskellery deur internet-trolle en ander vorme van aanlyn belediging en teistering—hoofsaaklik via sosiale media.

Hoe inkomste deur digitale inheemse media gegenereer was gedurende 2019 en 2020

Om beter te verstaan hoe digitale inheemse media voor en tydens die pandemie gevaar het, het ons gedetailleerde vrae gevra oor inkomstebronne en uitgawes vir beide 2019 en 2020.

Dwarsdeur hierdie verslag gebruik ons data van 2019 om potensiaal tydelike afwykings wat deur die COVID-19-pandemie veroorsaak is, te vermy. Ons het slegs bevindings van 2020 ingesluit waar daar noemenswaardige verskille was.

Daar moet daarop gelet word dat nie al die media in hierdie studie al ons inkomste- en finansieringsvrae kon beantwoord nie, en ‘n paar het geweier om te antwoord, ten spyte van ons versekerings rakende hul privaatheid. As gevolg hiervan is die finansiële syfers wat in hierdie verslag gemeld word gebaseer op inligting wat ons verkry het van 141 van die 201 medialeiers wat ons ondervra het. Om hierdie bevindings beter te vergelyk, is inkomste en uitgawes omgeskakel na Amerikaanse dollars, met behulp van gemiddelde omskakelingskoerse vir die jaar wat gerapporteer is.

Oor al die media in al drie streke waaroor hierdie studie handel was die top-inkomstekategorieë soos volg: toekennings, advertensies, konsultasiedienste, inhoudsdienste, en leserinkomste, in daardie volgorde, vir beide jare.

Top inkomstebronne oor alle media in al drie streke

Gemiddelde persentasie van jaarlikse inkomste gedurende 2019

Gemiddelde persentasie van jaarlikse inkomste gedurende 2020

Gemiddelde waarde in Amerikaanse dollar gedurende 2019

Gemiddelde waarde in Amerikaanse dollar gedurende 2020

Totale Inkomste uit Toekennings

28.08%

30.75%

$48,258

$63,597

Totale Advertensie Inkomste

23.32%

20.81%

$27,903

$27,323

Totale Inkomste uit Konsultasiedienste

11.96%

10.26%

$17,664

$27,770

Totale Inkomste uit Inhoudsdienste

8.28%

6.86%

$10,492

$14,066

Totale Inkomste van Lesers

8.27%

6.49%

$23,180

$21,834

* Hierdie getalle kombineer soortgelyke bronne in topkategorieë

  • Toekennings: Sluit in alle toekenningsfondse van private stigtings, filantropiese beleggers, en private korporasies, insluitend Google en Facebook, sowel as toekennings van buitelandse en nasionale regeringsorganisasies
  • Advertensie-inkomste: Sluit alle advertensiebronne in wat gerapporteer word, insluitend Google Adsense, geaffilieerde advertensies, programmatiese advertensienetwerke, geborgde inhoud en inheemse advertensies, en advertensies wat deur agentskappe en personeel verkoop word
  • Inkomste uit inhoudsdienste: Sluit in alle inkomste uit inhoudsindikasie, unieke inhoud wat vir ander media geskep is, inhoud wat vir nie-mediakliënte geskep is, en ontwerp- of tegnologiedienste
  • Leserinkomste: Sluit in intekeninge, lidmaatskapsfooie, nuusbriefintekeninge, skenkings van individue, gehoorbefondsing en gebeurteniskaartjieverkope

Die hoë vlak van befondsing deur middel van toekennings is opvallend omdat dit nie ‘n beduidende bron van inkomste was onder die media wat ons in Latyns-Amerika in 2016 bestudeer het nie, toe toekenningsbefondsing gerapporteer is deur slegs 16% van die media wat deelgeneem het aan ons eerste studie.

Gedurende 2019, ondersteuning deur midel van toekennings vir alle media in al drie streke wat in hierdie studie ingesluit is, het 28% van totale inkomste verteenwoordig, wat tot 31% gestyg het gedurende 2020. Gemiddelde toekenningsvlakke per media het van ongeveer $48,000 in 2019 tot meer as $63,000 in 2020 gestyg. Ondersteuning deur middel van toekennings was selfs hoër in Latyns-Amerika.

In private gesprekke het ons agtergekom dat skenkers en stigtings toenemend bekommerd is dat onafhanklike media te afhanklik word van toekenningsbefondsing, en ons is ook daaroor besorgd. Daar is egter rede om te glo dat verhoogde skenkerondersteuning en filantropiese beleggings deel is van wat hierdie digitale entrepreneurs gehelp het om die storm tydens die “pandemie-ineenstorting” te trotseer.

Om hierdie bevinding in perspektief te stel, is dit belangrik om daarop te let dat omdat hulle sulke klein begrotings het om mee te begin, min befondsing vêr kan strek.

Meer as 60% van die digitale inheemse media organisasies wat in hierdie studie deelgeneem het, rapporteer dat hulle minder as $50,000 totale inkomste in 2019 ontvang het, en 8% het geen inkomste gehad nie, wat beteken dat hulle heeltemal afhanklik van vrywilligers is.

Maar nie al die organisasies is so klein nie. Oor al drie streke in 2019 het meer as 36% van hulle ‘n jaarlikse inkomste bo $100,000 gerapporteer, en 15% het mediaan jaarlikse inkomste bo $1 miljoen gerapporteer.

Ons het ook gevind dat byna 25% van die organisasies aan die einde van 2019 darem ‘n klein wins gemaak het na aftrekking van hul uitgawes.

Inkomste van advertensies het ‘n nabye tweede gekom as die belangrikste inkomstekategorie, en die mediaan advertensie-inkomste per organisasie het relatief stabiel gebly teen $28,319 in 2019, en $27,323 in 2020.

Om beter te verstaan hoe media in verskillende fases van ontwikkeling sakemodelle bou, het ons ‘n lys van 30 verskillende tipes inkomstebronne geskep, wat ons in detail in die hoofstuk oor Building Business Models [Die Bou van Sakemodelle] ondersoek.

Ons was lank reeds voorstanders van die diversifisering van inkomstebronne om groter onafhanklikheid en volhoubaarheid te bereik, maar toe ons ‘n vergelyking getref het tussen die hoeveelheid inkomstebronne wat elke media-organisasie gehad het en hoe dit hul jaarlikse inkomste beïnvloed het, het ons gevind dat meer nie altyd beter is nie, en dat twee tot ses inkomstebronne optimaal was.

Diegene wat meer as ses bronne gerapporteer het, het nie noodwendig meer verdien nie, ‘n bevinding wat ons toeskryf aan ‘n algemene tekortkoming wat onder baie entrepreneurs te vinde is: hulle pak te veel projekte gelyktydig aan, en dit kan sukses belemmer.

Spanne met diverse vaardighede verdien meer inkomste

Een van die mees dramatiese bevindings wat ons gemaak het in ons eerste studie van hierdie hoofsaaklik joernalis-geleide media organisasies, was die verrykende gevolge wat gebeur het wanneer ten minste een toegewyde verkoops- of besigheidsontwikkeling-persoon in die span opgeneem is.

In hierdie uitgebreide studie het ons gevind dat hierdie verskynsel in al drie streke van toepassing was. Diegene wat berig het dat hulle ‘n betaalde verkoopspersoon as personeellid gehad het, het in 2019 ses tot nege keer meer inkomste verdien as diegene wat nie so ‘n persoon gehuur het nie.

Hierdie keer het ons ook gevra hoeveel hulle die verkoopsmense betaal, en gevind dat salarisse vir verkoops- en besigheidsontwikkelings-posisies wissel van $200 tot $2,000 per maand, met ‘n algemene mediaan van $733.

Gegewe die dramatiese impak van ‘n betaalde personeellid wat toegewy is aan die voortbrenging van bestuursinkomste, en die relatief lae koste van arbeid in hierdie markte, is ‘n belegging in verkoops- en sakepersoneel steeds een van ons top aanbevelings.

Saam met ander nuwe bevindings wat gemaak is, het ons opgemerk dat waar mediaorganisasies ‘n toegewyde tegnologies- of innovasiegerigte-personeellid aangestel het, het hulle drie keer hoër inkomste gerapporteer—selfs wanneer hulle nie ‘n verkoopspersoon op die span gehad het nie.

Hoë getalle vroue en minderheidseienaars

Een van die indrukwekkendste bevindings van ons eerste Inflection Point-verslag was dat vroue 38% van alle mediastigters verteenwoordig het uit die 100 digitale inboorlinge wat ons in Argentinië, Brasilië, Colombia en Mexiko ondervra het.

Hierdie bevinding was baanbrekend omdat dit getoon het dat baie meer vroue ‘n sitplek aan die eienaar se tafel van hierdie relatief nuwe media-organisasies het as by koerante en televisiestasies in hul markte, waar eienaarskap deur vroue so laag is as 1%.

In hierdie studie het ons gevind dat 32% van al die stigters van die 201 maatskappye wat ons bestudeer het, vroue was, hoewel die getalle volgens streek gewissel het en aansienlik laer in Afrika was.

Ons het ook bevind dat 25% van die organisasies gesê het dat ten minste een van hul stigters ‘n minderheidsgemeenskap in hul land verteenwoordig: byna 30% in Latyns-Amerika, 25% in Suidoos-Asië, en 20% in Afrika.

Wie behoort hierdie verslag te lees

Ons deel die bevindings in hierdie verslag met die doel om digitale-media-entrepreneurs te help, maar tradisionele medialeiers mag ook moontlik voordeel trek uit hierdie insigte, aangesien digitale innovasie steeds tradisionele mediabesigheidsmodelle erodeer.

Ons is daarvan deeglik bewus dat ons hierdie verslag op nog ‘n “verbuigingspunt” in die relatief kort geskiedenis van digitale inheemse media publiseer. Terwyl hulle teen valse inligting veg, en werk om hul gemeenskappe in te lig, moet hierdie media organisasies ook met die post-pandemiese ekonomiese krisisse in hul lande worstel, terwyl hulle die hele tyd ‘n spervuur van dreigemente en aanvalle verduur.

Ons hoop dat die insigte, aanbevelings, en voorgestelde beste praktyke in hierdie verslag sal help om medialeiers, befondsers, akademici, en andere wat ons missie deel te bemagtig, om sodeoende hulle te help groei, innoveer en uiteindelik hul gemeenskappe beter in te lig op maniere wat hul demokrasieë sal versterk.